Wikipedia:Interessante brokkies/Voorblad

...dat radiogolwe vinniger as klankgolwe beweeg? Tydens 'n regstreekse uitsending sal radioluisteraars duisende kilometers weg 'n stem hoor nog voor die mense wat agter in die opnamelokaal sit dit hoor.

... dat die Bastille, een van Parys se geskiedkundige bakens, nie meer bestaan nie? Dit is tussen 16 Julie 1789 en Oktober 1790 deur Pierre-François Palloy afgebreek.

... dat die Lae Lande deur 'n kaart wat soos 'n leeu lyk voorgestel kan word? Die Leo Belgicus is 'n gestileerde kaart van wat die Nederlande in die vorm van 'n leeu uitbeeld en die eerste weergawe is reeds in 1583 geskep.

... dat Asië en Noord-Amerika op verskillende tye in die verlede deur die Beringlandbrug verbind is? Die laaste keer was tussen 22 000 en 7 000 jaar gelede.

... dat die Toepolef Tu-144 van die Sowjetunie die eerste supersoniese passasiersvliegtuig ter wêreld was? Die eerste toetsvlug het op 31 Desember 1968 plaasgevind, enkele maande voordat die Frans-Britse Concorde vir die eerste keer opgestyg het.