WELKOM by my versameling,” sê die kort, opgeblase mannetjie terwyl hy die deur oopsluit met ’n sleutel wat hy pas uit sy sak gehaal het.
Tommie Harmse volg hom die vertoonsaal binne en moet net keer of hy verklap hoe beïndruk hy is. ’n Weelderige tapyt bedek die ganse vloeroppervlak, maar dis nie waaroor dit gaan nie. Teen elk van die vier houtmure hang hulle.
Skilderye van misterieuse dames, gesluierde verleidsters, forse amasones. “Kom,” begin Ryno de Vos hom langs een muur af lei. Hy gaan staan by die eerste skildery. “Jy sal sien hoe fyn is die tekstuur by dié een, veral by die nek rond. Asof ’n mens die vel daar kan voel.”
“Hmm,” maak Tommie. Van kuns weet hy niks, en hy het ook nog nooit daarin belanggestel nie. Hy het inderhaas ’n paar internetbronne geraadpleeg nadat hy die uitnodiging hierheen gekry het. Ryno de Vos het na bewering die waardevolste kunsversameling in die land wat op die vrou sentreer.
Byna trek Tommie sy asem in. Hy het dit pas opgemerk. Ongetwyfeld die regte skildery.