REISJOERNAAL
Tydens die reis met ons Land Rover deur die noorde van Ecuador (sien Weg #213 – Red.) besef ek en Hanlie ons moet oor ons finansies besin. Die Galápagoseilande is nou wel ’n Ecuadoriaanse gebied, maar dis steeds ’n peperduur bestemming. Ons voorneme om die kraantjie ’n bietjie stywer toe te draai is egter na die maan toe ons ander Suid-Afrikaners – Luis en Kareen Broodryk – in ’n kampterrein onder die Cotopaxi-vulkaan raakloop.
“Julle kan mos nou nie al die pad tot hier gekom het en nié Galápagos toe gaan nie!”redeneer die twee. (Volg gerus ook die Broodryks se omswerwinge op YouTube: @FearlessOnFourWheels – Red.) Skaars twee dae later klim ons op ’n vliegtuig van Quito na Santa Cruz, die Galápagos-argipel se hoofeiland wat sowat 1 000 km wes van Ecuador lê.
Ons het nie juis tyd gehad om ons huiswerk te doen nie en het haastig vir die eerste twee nagte verblyf by die Peregrina B&B ( laperegrinagalapagos.com. ec) bespreek. Ons daag met rugsakke op, onseker oor hoe die volgende tien dae gaan verloop. Ons was aangewese op toerismebrosjures en brokkies inligting van eilandbewoners en ander mense wat al hierheen gereis het, maar gelukkig praat die meeste van die mense op Galápagos ook Engels.
Danksy die diversiteit wat ’n mens in die eilandgroep se natuurskoon aantref, word Galápagos as een van die boeiendste plekke op aarde beskou. Elkeen van dié eilandjies kan met endemiese fauna en flora spog waarvan sommige spesies nie eens op die aangrensende eilande voorkom nie.
Die argipel – bestaande uit