Gaan na inhoud

Elektroniese musiek

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Kraftwerk by die Kijif, Oekraïne in 2008.
Björk by die Radio City Music Hall in 2007.

Elektroniese musiek is musiek wat met behulp van elektroniese musiekinstrumente en musiektegnologie geproduseer word. Oor die algemeen word daar onderskei tussen klank wat met behulp van 'n elektromeganiese toestel geproduseer is, soos viole en dromme, en dié wat geproduseer word met elektroniese tegnologie. Elektroniese tegnologie kan ook vermeng word met ander produksies.

Voorbeelde van toestelle wat elektriese klank produseer is die Telharmonium, Hammond-orrel en die elektriese kitaar. Suiwer elektroniese klanke kan geproduseer word met toestelle soos die theremin, klanksintetiseerder en elektroniese rekenaar.

In die 1970's het elektroniese musiek 'n beduidende invloed gehad op populêre musiek, met die ingebruikneming van polifoniese sintetiseerders, elektroniese dromme, drommasjiene en draaitafels, deur die opkoms van genres soos disko, krautrock, "new wave", synthpop, hiphop en EDM.

Elektronies geproduseerde musiek het sedert die laat 1990's al hoe gewilder geword as gevolg van die beskikbaarheid van bekostigbare musiektegnologie. Kontemporêre elektroniese musiek beskik oor wye tegniek- en komposisie-verskeidenheid, en wissel van eksperimentele kunsmusiek tot gewilde vorme soos elektroniese dansmusiek. Vandag is pop-elektroniese musiek die herkenbaarste in sy 4/4-vorm en baie meer verbind met die hoofstroomkultuur, in teenstelling met die voorafgaande vorms wat op nismarkte gespesialiseer was.[1]

Suiwer elektroniese instrumente

[wysig | wysig bron]

In die suiwer elektroniese musiekinstrumente vind klankvoortbrenging plaas deur middel van generators. Met hierdie instrumente is daar in al die gevalle 'n groter klankkleurvariasie moontlik. Volgens die manier waarop dit bespeel word, word verskillende apparaat onderskei. Een daarvan is die thereminvox van Leon Theremin (gebore 1896): deur 'n antenne met die hand te beweeg, verander die toonhoogte, met ʼn skakelaar kan die geluid onderbreek word en die sterktereëling word met 'n pedaal gereguleer. Die Ondes Martenot van Maurice Martenot (gebore 1898), kortweg die Martenot genoem, is toegerus met toetse wat, benewens vertikaal, ook sydelings beweeg kan word om die glissando- (glyende) en vibrato-effekte te verkry. Honegger, Milhaud, Jolivet en Messian het onder andere werke vir hierdie eenstemmige instrument gekomponeer.

Die Martenot word baie in die Franse teaters gebruik. Die trautonium was aanvanklik ʼn eenstemmige melodie-instrument wat bespeel is deur die aanraak van 'n snaar. In samewerking met Oskar Sala (gebore 1910) het die uitvinder, Friedrich Trautwein (1888- 1956), die mixtur-trautonium ontwikkel, waarop daar vierstemmig gespeel kan word. Onder andere het Genzmer en Hindemith musiek vir hierdie instrument gekomponeer. Instrumente vergelykbaar met bogenoemde is die hellertion van Heiberger en Lertes, wat sterktereel ing in die toetse het, die sphärophon van Jörg Mager (1880-1939) en die novachord, die dinafoon, die mellertion en die emikon. Honegger het spesiaal sy ballet Roses en metal vir die dinafoon geskryf.

Die uitgebreide groep pyplose orrels word veral by die uitvoering van kerk- en ligte musiek gebruik. Volgens uiterlike voorkoms en die wyse waarop dit bespeel word, Iyk hulle baie soos 'n pyporrel: een of meer klawerborde, registerknoppe vir klankkleurskakeling en dikwels nag 'n pedaalklawer. Die oudste van hierdie soort orrels is die Allen-, die Baldwin- en die Connsonata-orrel uit Amerika en die Engelse Copton Electrone. Pyplose orrels word deesdae op groot skaal deur talle fabrikante gebou.

AI die instrumente wat tot dusver genoem is, is hoofsaaklik ontwikkel in die periode tussen die twee wêreldoorloë en het daarna nie wesenlik baie verander nie. Nuwe ontwikkelinge op hierdie gebied het in die sestigerjare gelei tot die bou van die sintetiseerder. (Dit is elektroniese apparaat waarmee die klanke van musiekinstrumente vervorm kan word.) Hierdie instrument is as't ware 'n klein spanningsbeheerateljee in die kleine. Die gewenste toonhoogte en klankkleurvariasie kan vooraf ingestel word en deur elektroniese bane verklank word. Of dit nou met 'n klawerbord toegerus is of nie, die sintetiseerders word in ateljees gebruik vir elektroniese musiek, veral vir pop en ligte musiek. Die bekendste sintetiseerders is die van ARP en van Moog (die Moog-sintetiseerder) in Amerika en die sintetiseerders van die Electronic Music Studios in Londen.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Neill, Ben. "Pleasure Beats: Rhythm and the Aesthetics of Current Electronic Music". Leonardo Music Journal. 12: 3–6. doi:10.1162/096112102762295052.